| Sentrale streek teelaarde van Springbokrugby |
|
|
|
| Articles - Featured | |||
| Written by Hannes Nienaber | |||
| Sunday, 22 November 2009 11:06 | |||
|
Deur die jare het die sentrale streek se skole ’n magdom Springbokke opgelewer. Of dit nou in jou huidige era is, of jare gelede, jy kan byna seker wees dat jou skool van Suid-Afrika se voorste rugbyspelers in die geskiedenis help skoei het. Skole in die Vrystaat en Noord-Kaap het ruimskoots bygedra tot Springbok-rugby en die sentrale streek kan met reg as teelaarde vir Springbokke beskou word. Grey-kollege in Bloemfontein het sedert sy bestaan tot dusver 33 Springbokke opgelewer, die eerste daarvan Herman van Broekhuizen, of Broekies, soos hy bekend gestaan het. Hy is in 1872 gebore en het op die ouderdom van 24 die eerste keer die Groen-en-Goud oor die kop getrek. As rugbyfabriek het Grey nog bekendes soos Naka Drotské, Ollie le Roux, CJ van der Linde en ook Heinrich Brüssow op die rugbyveld help slyp. Die sentrale streek se rugbykrag strek egter veel verder. Een van Boys’ High se bekendste spelers is sekerlik Ian Kirkpatrick. Hy het as 23-jarige losskakel sy Bok-buiging teen Australië gemaak wat die Bokke uiteindelik met 14-18 verloor het. Hy het ook Griekwas later afgerig en was die span se breier toe hulle in 1970 die Curriebeker verower het. Sy suster is met die Springbok-skrumskakel, Dick Lockyear, getroud. Wat ook ’n leerling aan Boys’ High was. Hoërskool Sentraal in die Rosestad spog huidiglik met vyf Bok-spelers. Die oud Bok-kaptein Nelie Smith is een van hulle. Edrich Krantz het ook sy skole-rugby vir Tralies gespeel. Hoërskool Harrismith hoef ook glad nie terug te staan wat Bokke betref nie. Die Oos-Vrystaatse skool het bekendes soos Klippies Kritzinger en De Wet Ras op die skoolbanke gehad. Hoërskool Kroonstad het in 1994 saamgesmelt met HTS De Wet Nel, Johan Slabbert en Kroonstad Landbou. Kroonstad Landbou het twee Springbokke in Burger Geldenhuys en André Venter opgelewer. Die Blouskool kon sedert 1994 twee Bokke in Faan Rautenbach Michael Claassens oplewer. HTS De Wet Nel het voor die samesmelting vir Gert Smal deur sy skoolbanke laat gaan. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad is kort op Bloues se hakke met drie nasionale spelers. Kulu Ferreira en Braam Els is van die Bokke wat hul rugbydae op skool vir Rooiskool deurgebring het. Suid-Afrika se huidige Bok-losskakel, Morné Steyn, het vir Sannies die maroentrui oor die kop getrek. Hoërskool Diamantveld in Kimberley het self twee Springbokke gelewer, met Mannetjies Gericke en Flippie van der Merwe wat van Diamonds afkomstig is. En wie sal vergeet dat Eben en Joggie Jansen van Hoërskool Griekwastad se Springbok-produkte is? Die legendariese Frik du Preez is ook van die sentrale streek. Hy het vir Hoërskool Parys sy rugby op skolevlak gespeel. Mof Myburgh en Toks van der Linde (Hoërskool Paul Erasmus op Senekal), Willem Barnard en Tiaan Strauss (Hoërskool Upington), Tom van Vollenhoven en Hendro Scholtz (Voortrekker op Bethlehem) en Martiens le Roux en Jannie de Beer (Hoërskool Wessel Maree op Odendaalsrus) het ook almal deur die jare die Bok-trui oor die kop getrek. Verskeie ander skole van die streek het ook ’n Springbok op hul kerfstok. Beaconsfield (Kimberley), Hoërskool Bloemfontein, Hoërskool Bothaville, Hoërskool Carnarvon, Dealesville, Hoërskool Douglas, Hoërskool Dr. Viljoen (Bloemfontein), Hoërskool Ficksburg, HTS Bloemfontein, Louis Botha, Hoërskool Kenhardt, HTS Kroonstad, Hoërskool Ladybrand, Lindley, Martin Oosthuizen (Kakamas), Sasolburg, Stockdale (Kimberley), Hoërskool Calvinia, Tweespruit en Hoërskool Victoria-Wes het elk al ’n Bok-speler opgelewer.
|




