| Le Roux Vrystaat-kampioen in driekamp |
|
|
|
| Articles - Featured | |||
| Written by Hannes Nienaber | |||
| Sunday, 22 November 2009 11:03 | |||
|
EKHARDT LE ROUX (Grey-kollege) het Saterdag op ’n koue dag op die Vrystaat-driekampkampioenskap (swem, fietsry en hardloop) by Maselspoort buite Bloemfontein gewys dat hy aanstaande jaar op die Suid-Afrikaanse kampioenskap in dié sportsoort ’n krag gaan wees om mee rekening te hou.
Le Roux het in die afdeling vir seuns 18-19 jaar koning gekraai in ’n mooi tyd (weersomstandighede in ag genome) van 1:17:02. Le Roux se Grey-spanmaat Wynand Buurman het self met ’n goeie tweede plek-tyd van 1:19:05 klaargemaak.
Hennie Rautenbach (Welkom) was derde in 1:21:54 en kan aanstaande jaar die Grey-manne die skrik op die lyf jaag.
In die afdeling vir meisies 18-19 jaar was dit weer twee atlete van één skool wat mekaar die hare ingevlieg het. Mariska Weideman en Chrismi Marais (albei Jim Fouché) het die pap van die begin van die swemskof af dik aangemaak en was deurgans in ’n tweestryd gewikkel.
Weideman het egter die oorhand gekry en in 1:18:30 geseëvier. Marais was minder as twee minute agter haar in 1:20:13. Die puik langasem van Eunice, Jessica Stevens, was meer as sewe minute agter Marais in die derde plek (1:27:14).
Gepraat van Eunice – dié skool het goud en silwer ingepalm in die afdeling vir meisies 16-17 jaar.
Leané Badenhorst en Maryke van Rooyen was in 1:21 14 en 1:25:17 onderskeidelik eerste en tweede in dié afdeling. Hulle tye was boonop vinniger as die derde plek-atleet in die 18-19 jaar ouderdomsgroep.
In die seuns 14-15 jaar wedloop was dit weer twee Grey-knape wat mekaar die stryd aangesê het, met geen noemenswaardige gevaar van agter nie. Armand Pretorius het uitgeblink met ’n baie goeie wentyd van 38:12 terwyl sy spanmaat, Jan Hendrik Buchner tweede oor die eindstreep gehardloop het in ’n self haastige 40:41.
Timothy Olivier (Bloemfontein Christian School) was ’n hele ent agter die Grey-manne met sy derde-plektyd van 44:51.
Eunice se driekampers het ook puik prestasie in die meisies 14-15 jaar opgedis. Elsa Oosthuizen en Corné Naudé maak dit weer goud en silwer vir dié meisieskool deur in onderskeie tye van 41:12 en 43:17 oor die eindstreep te hardloop – en let wel, hul tye sou hulle albei die derde plek in die seuns-afdeling (14-15 jaar) besorg het.
John Peter Botha het in die seuns 16-17 jaar seker gemaak dat die Hoërskool Sentraal ook sy stempel afdruk. Hy wen dié afdeling in ’n haastige 1:18:47 en doen dit vinniger as die silwermedalje-wenner in die 18-19 jaar groep.
) Daar is tydens die bogenoemde kampioenskap ook ’n dubbelkamp-byeenkoms (hardloop, fietsry, hardloop) aangebied en goeie vertonings het ook hier sy kop uitgesteek.
Die Suid-Afrikaanse dubbelkampkampioen en een van die Vrystaat se sterre in dié sportsoort, Gerhard Potgieter (Jim Fouché) het gewys hoekom hy nie maklik in Suid-Afrika geklop word nie. Potgieter wen die afdeling vir seuns 17-19 jaar in ’n haastige 1:05:07.
Haal gerus jou hoed af vir die middel- en langafstandatleet Wentzel van der Sandt (Sand du Plessis). Van der Sandt, wat nog nooit fietsry geoefen het nie, besluit toe om sy vermoë in dubbelkamp te toets en eindig in 1:08:45 – ’n tyd wat ’n mooi toekoms vir dié mannetjie voorspel indien hy van plan is om dubbelkamp ernstig op te neem.
Nóg ’n Jim Fouché-veelkampatleet, Johan Sander, het in die afdeling vir seuns 16-17 jaar nie sy gelyke gehad nie en met ’n goeie 1:09:30 losgetrek. Die twee langafstandatlete van Navalsig, Gordon Mohale en Kenneth Letlaka, kon nie die mas met die fiets opkom nie en was in hul eerste driekamp-deelname in slakkegang-tye van 1:21:20 en 1:31:06 onderskeidelik tweede en derde.
|




